Die kort mannetjie met die pet op sy kop kleineer sy vrou deur lelike goed vir haar te sê. Hy bring nagte in kroeë deur waar hy probeer om jong poppies op te tel. Hy steel geld van sy vrou om drank te koop en wanneer hy nie in die kroeg is nie, lê en slaap hy sy roes af op die rusbank. Om ’n werk te kry, is vir hom heeltemal onaanvaarbaar. En hy slaan sy vrou.
Dis ’n aaklige mannetjie, tog word sy dade dag ná dag aan koerantlesers wêreldwyd opgedis.
Andy Capp is ’n strokiesprent wat ek al van my peuterdae ken. En ek kan nie onthou dat ek al ooit gedink het enigiets wat die man aanvang is snaaks nie.
’n Strokiesprent, dié soort wat elke dag in koerante gepubliseer word, moet jou minstens laat glimlag. Of jou oor die een of ander wysheid laat nadink. Of jy moet met iets aan die karakters en die situasie kan identifiseer.
Maar wat is humoristies aan so ’n aaklige mannetjie en sy doen en late? Dis veral nie snaaks nie in ’n opset waar geweld aan die orde van die dag is en die statistieke oor geweld teenoor vroue en kinders jou na jou asem laat snak.
Andy Capp, ’n skepping deur ’n Brit, is egter nie die enigste strokie waar dié soort gedrag uitgebeeld word nie. Die Amerikaanse strokiesprent The Lockhorns (wat ook onder verskeie name in Afrikaanse publikasies verskyn) is ewe erg. Die man sit keer op keer aan vir ete en elke keer word sy vrou se kookvernuf beledig.
Of hy verneder haar deur haar by ’n skoonheidsalon weg te sien en daarna aanmerkings oor haar voorkoms te maak. En wanneer hulle uitgaan, kyk hy aantreklike jonger vroue uit hul klere uit.
En dan word daar van die leser verwag om te lag! Hoeveel keer het jy al gedink dis snaaks as iemand iets negatief oor jou voorkoms sê? Presies. Waarom word sulke irriterende strokies dus dag ná dag aan lesers opgedis?
Ek lees iewers dat The Lockhorns satire is. Satire werk net tot op ’n punt. En dan ook nie meer wanneer dieselfde beledigings herhaal word nie. Ek lees ook op Wikipedia die egpaar skei nie, want hulle het al uitgewerk dis goedkoper om getroud te bly.
Ai-jai-jai. Daar is iets fout met die boodskappe wat met Andy Capp en The Lockhorns die wêreld ingestuur word: Bly in ’n situasie al word jy verbaal en fisiek vernietig; bly by jou man al steel hy van jou en lig hy maklik sy hand vir jou.
In al die jare het ek nog nie een keer gesien dat Andy se vrou, Flo, ’n klag teen haar man probeer indien nie.
Nouja, daar is seker ’n saak daarvoor uit te maak dat Britte uit die laer stande skrikkerig is vir die polisie. En dat dit beter is om die gesinseenheid heel te hou.
Maar in die Capps se geval is daar geen kinders om wie se ontwil die ouers moet saambly nie. Dit is in elk geval ’n twyfelagtige rede om getroud te bly.
Wil die gemiddelde Suid-Afrikaner regtig dié strokies in hul tydskrifte en koerante sien? Ek wil nie. Want daar is iets fout daarmee om te dink dat die vorme van geweld wat in sulke strokies uitgebeeld word, aanvaarbaar is, óf dat ’n mens daarvoor moet lag.
Selfs al word dit deur getekende figuurtjies gepleeg. © Stephanie Nieuwoudt
Sunday, June 28, 2009
Weg met Andy Capp en die Lockhorns!
Labels:
andy capp,
boekslaaf,
geweld,
lockhorns,
stephanie nieuwoudt,
strokies,
strokiesprent
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Jou Sporprentjie kommentaar oor Andy Capp is super relevant en ek het dit die meeste geniet. Baie relevant -- ek sou oorweeg om dit te stuur aan `n koerant -- of aan iemand soos DE KAT. Mal daaroor. Dis so waar-- dis absoluut belaglik baie van die goed en sooo uitgedien. Kan hulle nie beter goed kry om uit te beeld nie. En is baie van die boodskappe nie uber belaglik en destruktief nie. Goed geskryf en baie geldig. Mooi so. Margs
ReplyDelete