Showing posts with label stephanie nieuwoudt. Show all posts
Showing posts with label stephanie nieuwoudt. Show all posts

Friday, April 15, 2011

Stephanie Nieuwoudt wen Mediaveertjie vir "Vriendskap oor dekades"


Stephanie Nieuwoudt het 'n 2011 ATKV-Mediaveertjie gewen vir haar profiel van Ouma Mieta van der Merwe en Oom Tolliejan van der Westhuizen, inwoners van 'n ouetehuis op Sutherland. "Tussen die twee, die een ’n wit vrou, die ander ’n bruin man, lê ’n leeftyd van saamwerk en saam swaarkry..."


Stephanie Nieuwoudt

Ouma Mieta van der Merwe is ’n sterk vrou. Dit sien jy aan haar lengte, haar forse gestalte en haar raakvathande. En aan haar gesig, wat ondanks haar 77 jaar taamlik sonder plooie is. En aan haar oë wat steeds helder en reguit kyk.


Ná ’n leeftyd as boervrou het sy onlangs in die Johenco-ouetehuis in Sutherland in ’n klein woonstelletjie ingetrek. In ’n ander vleuel van die tehuis deel Jan (Tolliejan) van der Westhuizen (70), wat sedert sy kinderdae by hulle gewerk het, ’n kamer met ’n ander bejaarde.

Tussen die twee, die een ’n wit vrou, die ander ’n bruin man, lê ’n leeftyd van saamwerk en saam swaarkry.

“Tolliejan het as sesjarige seuntjie met ’n velletjie oor sy skouer by die buurplaas opgedaag en gesê hy wil daar kom bly en werk,” vertel ouma Mieta. Die “velletjie” was ’n skaapvel wat hy op die vloer oopgegooi het om op te slaap. Die boer van die buurplaas sou later haar man word.

’n Sesjarige seuntjie wat werk? Inderdaad. In die Noord-Kaap moes plaaskinders ongeag hul velkleur van bitter jonk leer om te werk. Ouma Mieta en haar tweelingsuster, Sannie, was net ’n maand oud – daar was vyf ouer kinders en ná hulle sou daar nog vier kom – toe haar pa besluit die gesin moet op ’n kapwa uit die T’Koeriesberg-omgewing padgee agter weiding vir die skape aan. Hulle het vier jaar lank getrek.

“Van daardie eerste paar jaar onthou ek niks,” sê ouma Mieta. “Maar ek onthou toe ons uiteindelik staanplek gekry het en ek en my sussie as vierjariges begin het om skaap op te pas. Ons was so dom, ons het nie geweet ons moet huis toe gaan as die son sak nie. My pa het dan maar ’n vuur gemaak, en dan loop ons agter die gloed aan.”

In haar goed gemoduleerde stem vertel ouma Mieta die polisie het eendag, toe sy en haar sussie agt jaar oud was, op hul plaas stilgehou en gesê die kinders moet skool toe. Hulle was ver van die skool af en die tweeling het saam met agt ander kinders by hul ouma gaan loseer. Nadat hulle standerd ses klaargemaak het, het haar pa besluit die tweeling het genoeg geleerdheid. Hulle moes op die plaas begin werk.

Sy lyk verbaas oor die vraag of sy ’n goeie verhouding met haar ouers, en veral haar pa, gehad het.

“Ons het wonderlike ouers gehad. My pa was streng, maar hy het ook altyd ná die tyd getroos. Die boere was arm. Hulle het nie werkers gehad nie. Hul kinders was hul werkmense

Ouma Mieta was net 19 jaar oud toe sy met die buurman, wat 16 jaar ouer was, getrou het. “Hy was goddank bly hy kry so ’n tawwe vrou,” sê ouma Mieta met ’n glimlag.

Toe hy sowat 14 jaar gelede dood is, het ouma Mieta en oom Tolliejan saam aanhou boer.

“Ek het skaap geskou en ’n klomp pryse gewen. Op 70 het ek gesê tot hier toe en niks verder nie. Die seuns het die plase oorgeneem.”

Saam met oom Tolliejan het sy na haar dorpshuis in Sutherland getrek, waar sy ’n ruk lank saam met haar dogter gewoon het. Oom Tolliejan het in ’n woonwa op die erf ingetrek. Toe ouma Mieta se heup en knieë begin oppak, het sy ouetehuis toe getrek. Weer is oom Tolliejan saam.

Ons stap van haar woonstelletjie af deur ’n gebou wat nogal aan ’n hospitaal herinner, op met ’n gang en kom uiteindelik tot stilstand by ’n gemeenskaplike vertrek waar ’n aantal bejaarde mans televisie kyk.

“Jan, hier’s mense om jou te sien,” roep ouma Mieta in die vertrek in. Oom Tolliejan, ’n oompie wat onder sy warm winterjas duidelik brandmaer en amper ’n kop korter is as ouma Mieta, spring onmiddellik op. Ons stap terug na haar woonstel. Waarom wou hy as kind so graag by ouma Mieta se toekomstige man gaan woon en waarom het hy so lank by die familie gebly?

“Hulle het kans gesien om my te ontvang,” antwoord die oom met ’n breë glimlag op sy beplooide gesig. “Dit was ’n goeie lewe. ’n Baie goeie lewe. Ons het nog met donkies geploeg.”

Nee, sê hy, dis nie vir hom, ’n man wat gewoond is aan die oop veld, moeilik om in die ouetehuis aan te pas nie. Hy kry hier wat hy nodig het. Hy kan elke dag televisie kyk. 7de Laan is sy gunsteling-program. Sy gesondheid is goed, sê oom Tolliejan. Al het hy tuberkulose gehad. Nadat hy lank medisyne gedrink het, is hy nou gesond.

“Hy het siek geword omdat hy tog te graag mense soen,” werp ouma Mieta tussenbeide.

“Ja. Ek soen al my familie. Veral die vroue.”

Hy weet nie wat hy sonder ouma Mieta sal doen nie, antwoord oom Tolliejan op ’n vraag. “Ons is so gewoond aan mekaar; ons kan nie sonder mekaar nie.”

“As ek nie meer hier is nie,” sê ouma Mieta droogweg, “sal hy my mis, want daar sal niemand wees om vir hom twak en vleis te gee nie.”

Oom Tolliejan het self ook vier kinders. Maar sy vrou is jare gelede by die geboorte van hul jongste kind dood. Ouma Mieta het by die geboorte vroedvrou gespeel. Die vrou het doodgebloei. Dit was heeltemal onverwags, vertel ouma Mieta. “Ek was geskok en hartseer.”

Oom Tolliejan se vier kinders het dikwels by ouma Mieta kos en klere gekry. Kosmaak was nog altyd een van die dinge wat vir ouma Mieta, ’n voorslag-kok, groot vreugde verskaf het. Deesdae kry oom Tolliejan minstens een keer per dag ’n bord kos wat sy vir hulle berei.

“Hy is baie lief vir vleis,” sê sy terloops.

Ondanks die probleme met haar heup en die feit dat sy dit al hoe moeiliker vind om te loop, ry sy nog gereeld die ver ent plaas toe, want sy kan nie in die ouetehuis stilsit nie.

En altyd is oom Tolliejan aan haar sy.

“Ons gesels onophoudelik. Daar is ’n leeftyd se dinge waaroor ons kan gesels. Ons gesamentlike belangstelling is die plaaslewe. Dis wat albei van ons ken,” sê ouma Mieta.

Op die plaas, by die dorpshuis en selfs by die ouetehuis deel ouma Mieta steeds vir oom Tolliejan werkies uit.

Ons groet en terwyl ons wegry, sien ons hoe ouma Mieta met haar vinger beduie na ’n potplant wat geskuif moet word. Toegewikkel in sy wintersjas spring oom Tolliejan aan die werk.

- Rapport, 2010-10-09

Sunday, June 28, 2009

Nuwe media is ou nuus

As jy een van daardie mense is wat nog sukkel om die aan-knoppie op jou rekenaar te vind, was jy waarskynlik die afgelope paar jaar in afsondering. Want volgens onlangse navorsing deur Deloitte vind tot 60% van die bevolking van enige ontwikkelde land dit meer vermaaklik om met hul rekenaars te werk as om TV te kyk.
Ook interessant is dat ouer mense – wat diep in hul sestigerjare is – ook toenemend van rekenaar en selfoontegnologie gebruik maak.
Die navorsers het ook bevind 31% van die respondente in Brasilie, Duitsland, Japan, Brittanje en Amerika gebruik hul selfone vir vermaakdoeleindes (65% van hulle is in die ouderdomsgroep 14 tot 25), 36% stuur e-posboodskappe terwyl hulle TV kyk en 35% persent lees gereeld koerante op die internet.
Maar, en hiervoor is joernaliste en beleggers in koerante van papier en ink dankbaar, 71% van die respondente verkies steeds om die koerant in sy tradisionele vorm te lees en 82% verkies tradisionele tydskrifte. Die meeste koerante en tydskrifte het egter ook n internet teenwoordigheid.
En 46% van die mense het aangedui dat hulle n sosiale netwerk profiel het. Hulle is dus op Facebook, hulle tweet op Twitter of hulle gebruik MixIt of ander hulpmiddels waarmee hulle op hoogte kan bly van hul vriende, kennisse en vreemdes se bewegings.
By n onlangse media-ontbyt in Kaapstad, het Daniel Munslow, n media strategis van Newsclip Media Monitoring benadruk dat maatskappye en selfs politici dit nie meer kan beskostig om sosiale media te ignoreer nie. Die Amerikaanse president, Barack Obama, het met sy verkiesingsveldtog sosiale media tot groot voordeel ingespan. Hy het onder meer internetbronne soos Facebook en selfoontegnologie ingespan om tot in die huise van die kiesers in te kom. Hulle kon hom nie ignorer nie, al wou hulle ook. Hy het onder meer 3.1 milljoen Facebook vriende gehad, op YouTube was daar 22 miljoen “page views”, daar was meer as 122 000 mense wat hom op Twitter gevolg het.
Sy boodskappe was deurentyd toeganklik en deel van sy sukses word daaraan toegeskryf dat hy “vanuit sy hart” gepraat het. Munslow, wat een van die beoordelaars was vir die internasionale Gold Quill-toekennings (dit word toegeken aan ondernemings wat die mees doeltreffende bemarkingsveldtogte het), het gese dat dit toenemend opval hoe uitgebreid maatskappye gebruik maak van sosiale netwerke om hul dienste en produkte te bemark.
Volgens Munslow is een van die grootste uitdagings aan openbare skakelbeamptes om regstreeks met verbruikers te kommunikeer. Die dae van media-verklarings aan joernaliste te stuur en te wag dat dit gepubliseer word, is verby. Deesdae word media-verklarings dadelik op n blog-ruimte en op die maatskappy se tuisblad op die internet gelaai. Dit word ook per e-pos aan kliente en joernaliste gestuur. Op die manier is die inligting dag en nag en van enige plek ter wereld beskikbaar.
Joernaliste is “platform agnostici”, aldus Munslow. Hulle is nie lojaal aan een medium nie want hulle is nie beperk tot net een bron of medium vanwaar hulle inligting kan kry nie.
Volgens Munslow is daar ook n tendens vir meer gelokaliseerde nuus. Streeks- en gemeenskapsmedia is dus belangrik. En ewe belangrik is visuele beelde.
Maar as n maatskappy ook in die buiteland werksaam is, moet hy deurentyd bewus wees van kulturele verskille, hy moet verstaan hoe media in die buiteland van die in sy tuisland verskil (in Brittanje en Amerika is gratis koerante belangrik terwyl daar n groter fokus op gemeenskapskoerante in Suid-Afrika is). As kulturele verskille nie in ag geneem word nie, kan enige bemarkingsaksie lelik skeefloop. Om byvoorbeeld motors te adverteer met vroulike modelle in skrapse klere, is n groot taboe in Moslem-lande.
Munslow het daarop gewys dat sogenaamde nuwe media glad nie meer nuut is nie. Die toekoms is nou met ons. En die ou “nuwe” media kan geensins meer geignoreer word nie.
Tikmasjiene het inderdaad nog net nostalgiese waarde. © Stephanie Nieuwoudt

Weg met Andy Capp en die Lockhorns!

Die kort mannetjie met die pet op sy kop kleineer sy vrou deur lelike goed vir haar te sê. Hy bring nagte in kroeë deur waar hy probeer om jong poppies op te tel. Hy steel geld van sy vrou om drank te koop en wanneer hy nie in die kroeg is nie, lê en slaap hy sy roes af op die rusbank. Om ’n werk te kry, is vir hom heeltemal onaanvaarbaar. En hy slaan sy vrou.
Dis ’n aaklige mannetjie, tog word sy dade dag ná dag aan koerantlesers wêreldwyd opgedis.
Andy Capp is ’n strokiesprent wat ek al van my peuterdae ken. En ek kan nie onthou dat ek al ooit gedink het enigiets wat die man aanvang is snaaks nie.
’n Strokiesprent, dié soort wat elke dag in koerante gepubliseer word, moet jou minstens laat glimlag. Of jou oor die een of ander wysheid laat nadink. Of jy moet met iets aan die karakters en die situasie kan identifiseer.
Maar wat is humoristies aan so ’n aaklige mannetjie en sy doen en late? Dis veral nie snaaks nie in ’n opset waar geweld aan die orde van die dag is en die statistieke oor geweld teenoor vroue en kinders jou na jou asem laat snak.
Andy Capp, ’n skepping deur ’n Brit, is egter nie die enigste strokie waar dié soort gedrag uitgebeeld word nie. Die Amerikaanse strokiesprent The Lockhorns (wat ook onder verskeie name in Afrikaanse publikasies verskyn) is ewe erg. Die man sit keer op keer aan vir ete en elke keer word sy vrou se kookvernuf beledig.
Of hy verneder haar deur haar by ’n skoonheidsalon weg te sien en daarna aanmerkings oor haar voorkoms te maak. En wanneer hulle uitgaan, kyk hy aantreklike jonger vroue uit hul klere uit.
En dan word daar van die leser verwag om te lag! Hoeveel keer het jy al gedink dis snaaks as iemand iets negatief oor jou voorkoms sê? Presies. Waarom word sulke irriterende strokies dus dag ná dag aan lesers opgedis?
Ek lees iewers dat The Lockhorns satire is. Satire werk net tot op ’n punt. En dan ook nie meer wanneer dieselfde beledigings herhaal word nie. Ek lees ook op Wikipedia die egpaar skei nie, want hulle het al uitgewerk dis goedkoper om getroud te bly.
Ai-jai-jai. Daar is iets fout met die boodskappe wat met Andy Capp en The Lockhorns die wêreld ingestuur word: Bly in ’n situasie al word jy verbaal en fisiek vernietig; bly by jou man al steel hy van jou en lig hy maklik sy hand vir jou.
In al die jare het ek nog nie een keer gesien dat Andy se vrou, Flo, ’n klag teen haar man probeer indien nie.
Nouja, daar is seker ’n saak daarvoor uit te maak dat Britte uit die laer stande skrikkerig is vir die polisie. En dat dit beter is om die gesinseenheid heel te hou.
Maar in die Capps se geval is daar geen kinders om wie se ontwil die ouers moet saambly nie. Dit is in elk geval ’n twyfelagtige rede om getroud te bly.
Wil die gemiddelde Suid-Afrikaner regtig dié strokies in hul tydskrifte en koerante sien? Ek wil nie. Want daar is iets fout daarmee om te dink dat die vorme van geweld wat in sulke strokies uitgebeeld word, aanvaarbaar is, óf dat ’n mens daarvoor moet lag.
Selfs al word dit deur getekende figuurtjies gepleeg. © Stephanie Nieuwoudt