Sunday, June 28, 2009

Nuwe media is ou nuus

As jy een van daardie mense is wat nog sukkel om die aan-knoppie op jou rekenaar te vind, was jy waarskynlik die afgelope paar jaar in afsondering. Want volgens onlangse navorsing deur Deloitte vind tot 60% van die bevolking van enige ontwikkelde land dit meer vermaaklik om met hul rekenaars te werk as om TV te kyk.
Ook interessant is dat ouer mense – wat diep in hul sestigerjare is – ook toenemend van rekenaar en selfoontegnologie gebruik maak.
Die navorsers het ook bevind 31% van die respondente in Brasilie, Duitsland, Japan, Brittanje en Amerika gebruik hul selfone vir vermaakdoeleindes (65% van hulle is in die ouderdomsgroep 14 tot 25), 36% stuur e-posboodskappe terwyl hulle TV kyk en 35% persent lees gereeld koerante op die internet.
Maar, en hiervoor is joernaliste en beleggers in koerante van papier en ink dankbaar, 71% van die respondente verkies steeds om die koerant in sy tradisionele vorm te lees en 82% verkies tradisionele tydskrifte. Die meeste koerante en tydskrifte het egter ook n internet teenwoordigheid.
En 46% van die mense het aangedui dat hulle n sosiale netwerk profiel het. Hulle is dus op Facebook, hulle tweet op Twitter of hulle gebruik MixIt of ander hulpmiddels waarmee hulle op hoogte kan bly van hul vriende, kennisse en vreemdes se bewegings.
By n onlangse media-ontbyt in Kaapstad, het Daniel Munslow, n media strategis van Newsclip Media Monitoring benadruk dat maatskappye en selfs politici dit nie meer kan beskostig om sosiale media te ignoreer nie. Die Amerikaanse president, Barack Obama, het met sy verkiesingsveldtog sosiale media tot groot voordeel ingespan. Hy het onder meer internetbronne soos Facebook en selfoontegnologie ingespan om tot in die huise van die kiesers in te kom. Hulle kon hom nie ignorer nie, al wou hulle ook. Hy het onder meer 3.1 milljoen Facebook vriende gehad, op YouTube was daar 22 miljoen “page views”, daar was meer as 122 000 mense wat hom op Twitter gevolg het.
Sy boodskappe was deurentyd toeganklik en deel van sy sukses word daaraan toegeskryf dat hy “vanuit sy hart” gepraat het. Munslow, wat een van die beoordelaars was vir die internasionale Gold Quill-toekennings (dit word toegeken aan ondernemings wat die mees doeltreffende bemarkingsveldtogte het), het gese dat dit toenemend opval hoe uitgebreid maatskappye gebruik maak van sosiale netwerke om hul dienste en produkte te bemark.
Volgens Munslow is een van die grootste uitdagings aan openbare skakelbeamptes om regstreeks met verbruikers te kommunikeer. Die dae van media-verklarings aan joernaliste te stuur en te wag dat dit gepubliseer word, is verby. Deesdae word media-verklarings dadelik op n blog-ruimte en op die maatskappy se tuisblad op die internet gelaai. Dit word ook per e-pos aan kliente en joernaliste gestuur. Op die manier is die inligting dag en nag en van enige plek ter wereld beskikbaar.
Joernaliste is “platform agnostici”, aldus Munslow. Hulle is nie lojaal aan een medium nie want hulle is nie beperk tot net een bron of medium vanwaar hulle inligting kan kry nie.
Volgens Munslow is daar ook n tendens vir meer gelokaliseerde nuus. Streeks- en gemeenskapsmedia is dus belangrik. En ewe belangrik is visuele beelde.
Maar as n maatskappy ook in die buiteland werksaam is, moet hy deurentyd bewus wees van kulturele verskille, hy moet verstaan hoe media in die buiteland van die in sy tuisland verskil (in Brittanje en Amerika is gratis koerante belangrik terwyl daar n groter fokus op gemeenskapskoerante in Suid-Afrika is). As kulturele verskille nie in ag geneem word nie, kan enige bemarkingsaksie lelik skeefloop. Om byvoorbeeld motors te adverteer met vroulike modelle in skrapse klere, is n groot taboe in Moslem-lande.
Munslow het daarop gewys dat sogenaamde nuwe media glad nie meer nuut is nie. Die toekoms is nou met ons. En die ou “nuwe” media kan geensins meer geignoreer word nie.
Tikmasjiene het inderdaad nog net nostalgiese waarde. © Stephanie Nieuwoudt

Weg met Andy Capp en die Lockhorns!

Die kort mannetjie met die pet op sy kop kleineer sy vrou deur lelike goed vir haar te sê. Hy bring nagte in kroeë deur waar hy probeer om jong poppies op te tel. Hy steel geld van sy vrou om drank te koop en wanneer hy nie in die kroeg is nie, lê en slaap hy sy roes af op die rusbank. Om ’n werk te kry, is vir hom heeltemal onaanvaarbaar. En hy slaan sy vrou.
Dis ’n aaklige mannetjie, tog word sy dade dag ná dag aan koerantlesers wêreldwyd opgedis.
Andy Capp is ’n strokiesprent wat ek al van my peuterdae ken. En ek kan nie onthou dat ek al ooit gedink het enigiets wat die man aanvang is snaaks nie.
’n Strokiesprent, dié soort wat elke dag in koerante gepubliseer word, moet jou minstens laat glimlag. Of jou oor die een of ander wysheid laat nadink. Of jy moet met iets aan die karakters en die situasie kan identifiseer.
Maar wat is humoristies aan so ’n aaklige mannetjie en sy doen en late? Dis veral nie snaaks nie in ’n opset waar geweld aan die orde van die dag is en die statistieke oor geweld teenoor vroue en kinders jou na jou asem laat snak.
Andy Capp, ’n skepping deur ’n Brit, is egter nie die enigste strokie waar dié soort gedrag uitgebeeld word nie. Die Amerikaanse strokiesprent The Lockhorns (wat ook onder verskeie name in Afrikaanse publikasies verskyn) is ewe erg. Die man sit keer op keer aan vir ete en elke keer word sy vrou se kookvernuf beledig.
Of hy verneder haar deur haar by ’n skoonheidsalon weg te sien en daarna aanmerkings oor haar voorkoms te maak. En wanneer hulle uitgaan, kyk hy aantreklike jonger vroue uit hul klere uit.
En dan word daar van die leser verwag om te lag! Hoeveel keer het jy al gedink dis snaaks as iemand iets negatief oor jou voorkoms sê? Presies. Waarom word sulke irriterende strokies dus dag ná dag aan lesers opgedis?
Ek lees iewers dat The Lockhorns satire is. Satire werk net tot op ’n punt. En dan ook nie meer wanneer dieselfde beledigings herhaal word nie. Ek lees ook op Wikipedia die egpaar skei nie, want hulle het al uitgewerk dis goedkoper om getroud te bly.
Ai-jai-jai. Daar is iets fout met die boodskappe wat met Andy Capp en The Lockhorns die wêreld ingestuur word: Bly in ’n situasie al word jy verbaal en fisiek vernietig; bly by jou man al steel hy van jou en lig hy maklik sy hand vir jou.
In al die jare het ek nog nie een keer gesien dat Andy se vrou, Flo, ’n klag teen haar man probeer indien nie.
Nouja, daar is seker ’n saak daarvoor uit te maak dat Britte uit die laer stande skrikkerig is vir die polisie. En dat dit beter is om die gesinseenheid heel te hou.
Maar in die Capps se geval is daar geen kinders om wie se ontwil die ouers moet saambly nie. Dit is in elk geval ’n twyfelagtige rede om getroud te bly.
Wil die gemiddelde Suid-Afrikaner regtig dié strokies in hul tydskrifte en koerante sien? Ek wil nie. Want daar is iets fout daarmee om te dink dat die vorme van geweld wat in sulke strokies uitgebeeld word, aanvaarbaar is, óf dat ’n mens daarvoor moet lag.
Selfs al word dit deur getekende figuurtjies gepleeg. © Stephanie Nieuwoudt