Thursday, September 17, 2009

Die tirannie van "skoon" wees

Die stem aan die ander kant van die lyn klink effe onsamehangend. Dit is dié van n jong man, Lyle. Hy is 24 jaar oud. En hy is reeds agttien maande lank skoon.
Vir nege jaar lank het hy die mense om hom in n nagmerriewêreld gedompel. Die mense naaste aan hom moes toekyk hoe hy hom oorgee aan dwelms en al maerder en maerder word. Hy het ontwykend opgetree en niemand se besittings was veilig nie. Maar Lyle het nie omgegee nie. Solank hy net daagliks n paar keer per dag tik en heroien kon gebruik, was hy gelukkig.
In graad elf was skool nie meer vir hom n opsie nie. Hy kon nie stilsit nie. Hy kon nie konsentreer nie. Hy kon nie verstaan waarom hy in n klas vasgedruk moes word terwyl hy dwelmbeneweld deur die strate van die Kaapse Vlakte kon ronddwaal nie.
Toe besluit hy eendag om nie meer skool toe te gaan nie. Maar iewers moes hy geld kry om vir sy dwelms te betaal.
“Ek het mense om my gemanipuleer. Vir hulle allerlei stories vertel sodat hulle my moes jammer kry en geld gee,” sê Lyle.
Hy het gelieg en mense besteel. Selfs dié wat die naaste aan hom was, het deurgeloop onder sy lang vingers. Sy pa het sy seun afgeskryf en selfs vir sy meisie was Lyle se leefwyse te veel.
Toe word hy amper twee jaar gelede op n dag wakker, en besef dat niemand hom meer vertrou nie. Die mense vir wie hy die liefste in die wêreld was, het hom verlaat.
Lyle het besef hy moet sy lewe regruk. Hy het by n rehabilitasiekliniek hulp gaan kry en is reeds agttien maande skoon.
“Ek is gelukkig nooit in hegtenis geneem nie.”
Sy broer, drie jaar ouer as Lyle, is egter steeds op dwelms en is al n paar keer opgesluit.
“Ek kan dit nie waag om hom te sien nie. Ek is bang dat ek weer gaan begin gebruik as ek hom sien,” sê Lyle. Hy is so bang om weer in die spiral van dwelms vasgevang te word, dat hy selde uitgaan en meestal by die huis bly.
“My ma en my pa is geskei en my ma het nie blyplek nie. My tante het my ingeneem en ek sorg dat ek besig bly deur haar huis skoon te maak en na goeie programme op TV te kyk. Ek probeer ook net aan goeie goed dink. Ek het my ou vriende afgeskryf. Jy kan nie met mense vriende wees saam met wie jy dwelms gebruik het nie.”
Wanneer hy die dag uitgaan, is dit saam met sy niggies en neefs.
“Hulle het nog nooit dwelms gebruik nie. Ek voel veilig saam met hulle. Ek sal altyd n recovering addict bly,” sê hy.
Maar sy broer is steeds n problem.
“Hy kom vra die heeltyd vir my ma vir geld en kos en slaapplek. Sy probeer hom help. Maar dan steel hy by die mense waar sy bly. En dan word my ma gevra om eerder te trek. My ma weet nie meer waarheen om te gaan nie, maar sy kan haar seun nie net afskryf nie.”
Uiteindelik groet ons. Ek het my storie. Maar selfs nadat ek sy verhaal in n groter storie oor dwelms in die land ingewerk het, laat los Lyle my nie. Lyle is deel van n uiters weerlose groep mense. Hy is arm, jonk en werkloos. En hy kom van n arm gemeenskap waar mense met mooi klere en blink motors dikwels as rolmodel dien – al het hulle deur misdaad ryk geword.
Dit verg n spesiale soort deursettingsvermoë om uit die spiraal van dwelmmisbruik weg te breek en om dag na dag die versoeking te weerstaan. Ek dink Lyle en al die ander recovering addicts is helde.

Sunday, September 13, 2009

Dan Brown Billboard

Is it only me or is there something strange in spending millions on a campaign to promote a book that is guaranteed to fly off the shelves without any publicity?
In Cape Town a building - one where people live and work - has been transformed into a billboard. This building is well-known as an advertising space. A number of products have been advertised on it already. But. Why, why, why a book that is already successful?
The book is Dan Brown's The Lost Symbol. Yes, the author who penned The Da Vinci Code and pocketed millions of dollars. The book that one could not escape. You saw people reading it everywhere - from the beaches in Kenya to aid workers in the refugee camps of the Sudan to commuters on the London underground.
The first print run of The Lost Symbol (published by Bantam Press) is a staggering 5 million copies. Five million. Just imagine the author getting R10 per book. The mind boggles at how much he is going to earn with just the first print run. And then there is the added income generators; public appearances, acting as MC at functions etc. etc.
Good for Brown, I say. He has found a recipe that works. That makes people want to read his books.
But back to my grief. Why is the huge building not rather used for promoting other books? There are hundreds of South African authors struggling to make a living. This country has a relatively low liteeracy rate. And those who can read often don't. The sad fact is that many who do buy books, spend their cash on works by well-established foreign authors. It is great to spend money on promoting a book, but imagine how many readers could potentially be guided to local authors by this building-as-billboard.
Cape Town is a city with thousands of tourists. Wouldn't it be great if their interest in lesser known South African authors could be piqued by the billboard?
There is renewed interest in South African fiction thanks to the fact that J.M Coetzee (he of Disgrace fame) is in line to receive the Man Booker Prize for the third time. Shouldn't South African publishers cash in on the interest in South African literature?
Here's to hoping that we will soon see truly South African literary products being promoted in public spaces. © Copyright Stephanie Nieuwoudt.

Wednesday, July 15, 2009

Stories teen die mure

Al het die wind fyn, fyn sand in my oë en mond gewaai, was ek dankbaar om op die heilige grond te kon staan. Dit was by die piramides van Meroë, ’n drie uur lange motorrit van die Soedanse hoofstad, Kartoem.
Hier is sowat veertig konings en koninginne van die antieke Meroïtiese koninkryk begrawe. Hulle het van 300 v.C. tot 300 n.C. geheers.
In sy boek Dark star safari skryf Paul Theroux hoe hy onder die sterre by die piramides kampeer. Daar was net ’n klein eenmanstentjie tussen hom en die woestyn. Ons het die gebied in die bloedige son besoek en geen romantiese aand á la Theroux daar deurgebring nie, maar die ervaring was nietemin betowerend.
Ná ’n vorige besoek aan Kaïro en dié stad se bedrywige piramide-gebied was die stilte van Meroë welkom. Behalwe ek en my reismaat en Ali, ons gids, vier buitelandse toeriste, ’n paar kameelryers en ’n hand vol plaaslike mense was daar niemand anders in die woestynlandskap nie.
Daar is meer piramides in die Soedan as in Egipte. By Meroë alleen is daar meer as vyftig strukture – en dit is maar een van vier piramide-gebiede in die Soedan.
Die strukture is heelwat kleiner as die piramides van Egipte. Maar, net soos in die Egiptiese piramides, vertel die prentjies teen die wande verhale.
Look, look, hair,” het Ali in geradbraakte Engels opgewonde die hare van die figure aan die piramides se mure aan ons uitgewys. “Bantu. Not Arabic. Look nose.
Die figure se neuse is inderdaad ronder en breër as dié wat in Egipte uitgebeeld word en die hare is korrelrig, nie reguit nie.
Deur die “prentjies” teen die wande te “lees”, leer jy iets van die mense wat duisende jare gelede gelewe het. Die gode wat hier uitgebeeld word, herinner sterk aan dié wat ’n mens in Egipte aantref en bevestig wedersydse beïnvloeding.
Die magte van een van die antieke heersers, Piye (soms bekend as Piankhy), wat in die noorde van die Soedan geheers het, het die Egiptenare oorwin en sodoende het hy ook een van ’n lang lys farao’s geword. Die Egiptenare het ook ’n ruk lank oor ’n deel van die antieke Noord-Soedan, destyds bekend as Kush, geheers.
Dit het ’n paar sekondes geduur om te verstaan wat Ali bedoel het met die woord “beeble” wat hy oor en oor herhaal het. Daar was inderdaad baie “beeble” teen die wande: konings en koninginne, slawe en slavinne en wesens wat halfmens, halfdier is.
Die koninklike “beeble” het nie onsin geduld nie, lei jy af uit die swepe wat gereed is om om die skouers van ander te krul. Daar is ook tekens van oorvloed; trone en duur gebruiksartikels soos bakke en skottels.
Die kettings waarmee mense aan mekaar vasgemaak is, toon duidelik die konings van antieke Meroë het van ander mense slawe gemaak. Daar is vandag steeds allerlei gerugte dat mensehandel in veral die oorloggeteisterde Darfoer in die weste van die Soedan voortduur.
Slawehandel in die Soedan is nie uniek nie: wêreldwyd word miljoene vroue en kinders jaarliks tot slawerny gedwing. Soms is dit deur fabrieksbase wat kinderwerkers in fabrieke toesluit.
Soms is dit deur gewetenlose “agente” wat arm vroue met allerlei beloftes van beter omstandighede uit hul geboorteland weglok en hulle dwing om prostitute te word deur hul paspoorte van hulle weg te neem.
Hoe “lees” jy die prentjie wat wys hoe ’n koningin ’n spies in die nekke van ’n groep gevangenes indruk? Was hulle misdadigers? Of was sy psigopaties en wou graag bloed sien vloei? ’n Mens se verbeelding gaan nogal op loop in dié verlate landskap.
Die strukture, waarvan sommige in die 20ste eeu met dinamiet deur grafstropers oopgeskiet is, lyk broos en dalk is dit waarom ’n mens woedend is wanneer jy sien hoe toeriste teen die piramides opklim om vir foto’s te poseer.
Toe Ali met sy flappende wit gewaad en (vermoedelik) ’n string Arabiese skelwoorde op hulle afstorm, is ’n mens verheug dat die maer, arm man so passievol voel oor sy land se erfenis. En jy is dankbaar dat die voortslepende konflik in die land verhinder dat miljoene toeriste op die heilige gebiede toesak. © Stephanie Nieuwoudt

Sunday, June 28, 2009

Nuwe media is ou nuus

As jy een van daardie mense is wat nog sukkel om die aan-knoppie op jou rekenaar te vind, was jy waarskynlik die afgelope paar jaar in afsondering. Want volgens onlangse navorsing deur Deloitte vind tot 60% van die bevolking van enige ontwikkelde land dit meer vermaaklik om met hul rekenaars te werk as om TV te kyk.
Ook interessant is dat ouer mense – wat diep in hul sestigerjare is – ook toenemend van rekenaar en selfoontegnologie gebruik maak.
Die navorsers het ook bevind 31% van die respondente in Brasilie, Duitsland, Japan, Brittanje en Amerika gebruik hul selfone vir vermaakdoeleindes (65% van hulle is in die ouderdomsgroep 14 tot 25), 36% stuur e-posboodskappe terwyl hulle TV kyk en 35% persent lees gereeld koerante op die internet.
Maar, en hiervoor is joernaliste en beleggers in koerante van papier en ink dankbaar, 71% van die respondente verkies steeds om die koerant in sy tradisionele vorm te lees en 82% verkies tradisionele tydskrifte. Die meeste koerante en tydskrifte het egter ook n internet teenwoordigheid.
En 46% van die mense het aangedui dat hulle n sosiale netwerk profiel het. Hulle is dus op Facebook, hulle tweet op Twitter of hulle gebruik MixIt of ander hulpmiddels waarmee hulle op hoogte kan bly van hul vriende, kennisse en vreemdes se bewegings.
By n onlangse media-ontbyt in Kaapstad, het Daniel Munslow, n media strategis van Newsclip Media Monitoring benadruk dat maatskappye en selfs politici dit nie meer kan beskostig om sosiale media te ignoreer nie. Die Amerikaanse president, Barack Obama, het met sy verkiesingsveldtog sosiale media tot groot voordeel ingespan. Hy het onder meer internetbronne soos Facebook en selfoontegnologie ingespan om tot in die huise van die kiesers in te kom. Hulle kon hom nie ignorer nie, al wou hulle ook. Hy het onder meer 3.1 milljoen Facebook vriende gehad, op YouTube was daar 22 miljoen “page views”, daar was meer as 122 000 mense wat hom op Twitter gevolg het.
Sy boodskappe was deurentyd toeganklik en deel van sy sukses word daaraan toegeskryf dat hy “vanuit sy hart” gepraat het. Munslow, wat een van die beoordelaars was vir die internasionale Gold Quill-toekennings (dit word toegeken aan ondernemings wat die mees doeltreffende bemarkingsveldtogte het), het gese dat dit toenemend opval hoe uitgebreid maatskappye gebruik maak van sosiale netwerke om hul dienste en produkte te bemark.
Volgens Munslow is een van die grootste uitdagings aan openbare skakelbeamptes om regstreeks met verbruikers te kommunikeer. Die dae van media-verklarings aan joernaliste te stuur en te wag dat dit gepubliseer word, is verby. Deesdae word media-verklarings dadelik op n blog-ruimte en op die maatskappy se tuisblad op die internet gelaai. Dit word ook per e-pos aan kliente en joernaliste gestuur. Op die manier is die inligting dag en nag en van enige plek ter wereld beskikbaar.
Joernaliste is “platform agnostici”, aldus Munslow. Hulle is nie lojaal aan een medium nie want hulle is nie beperk tot net een bron of medium vanwaar hulle inligting kan kry nie.
Volgens Munslow is daar ook n tendens vir meer gelokaliseerde nuus. Streeks- en gemeenskapsmedia is dus belangrik. En ewe belangrik is visuele beelde.
Maar as n maatskappy ook in die buiteland werksaam is, moet hy deurentyd bewus wees van kulturele verskille, hy moet verstaan hoe media in die buiteland van die in sy tuisland verskil (in Brittanje en Amerika is gratis koerante belangrik terwyl daar n groter fokus op gemeenskapskoerante in Suid-Afrika is). As kulturele verskille nie in ag geneem word nie, kan enige bemarkingsaksie lelik skeefloop. Om byvoorbeeld motors te adverteer met vroulike modelle in skrapse klere, is n groot taboe in Moslem-lande.
Munslow het daarop gewys dat sogenaamde nuwe media glad nie meer nuut is nie. Die toekoms is nou met ons. En die ou “nuwe” media kan geensins meer geignoreer word nie.
Tikmasjiene het inderdaad nog net nostalgiese waarde. © Stephanie Nieuwoudt

Weg met Andy Capp en die Lockhorns!

Die kort mannetjie met die pet op sy kop kleineer sy vrou deur lelike goed vir haar te sê. Hy bring nagte in kroeë deur waar hy probeer om jong poppies op te tel. Hy steel geld van sy vrou om drank te koop en wanneer hy nie in die kroeg is nie, lê en slaap hy sy roes af op die rusbank. Om ’n werk te kry, is vir hom heeltemal onaanvaarbaar. En hy slaan sy vrou.
Dis ’n aaklige mannetjie, tog word sy dade dag ná dag aan koerantlesers wêreldwyd opgedis.
Andy Capp is ’n strokiesprent wat ek al van my peuterdae ken. En ek kan nie onthou dat ek al ooit gedink het enigiets wat die man aanvang is snaaks nie.
’n Strokiesprent, dié soort wat elke dag in koerante gepubliseer word, moet jou minstens laat glimlag. Of jou oor die een of ander wysheid laat nadink. Of jy moet met iets aan die karakters en die situasie kan identifiseer.
Maar wat is humoristies aan so ’n aaklige mannetjie en sy doen en late? Dis veral nie snaaks nie in ’n opset waar geweld aan die orde van die dag is en die statistieke oor geweld teenoor vroue en kinders jou na jou asem laat snak.
Andy Capp, ’n skepping deur ’n Brit, is egter nie die enigste strokie waar dié soort gedrag uitgebeeld word nie. Die Amerikaanse strokiesprent The Lockhorns (wat ook onder verskeie name in Afrikaanse publikasies verskyn) is ewe erg. Die man sit keer op keer aan vir ete en elke keer word sy vrou se kookvernuf beledig.
Of hy verneder haar deur haar by ’n skoonheidsalon weg te sien en daarna aanmerkings oor haar voorkoms te maak. En wanneer hulle uitgaan, kyk hy aantreklike jonger vroue uit hul klere uit.
En dan word daar van die leser verwag om te lag! Hoeveel keer het jy al gedink dis snaaks as iemand iets negatief oor jou voorkoms sê? Presies. Waarom word sulke irriterende strokies dus dag ná dag aan lesers opgedis?
Ek lees iewers dat The Lockhorns satire is. Satire werk net tot op ’n punt. En dan ook nie meer wanneer dieselfde beledigings herhaal word nie. Ek lees ook op Wikipedia die egpaar skei nie, want hulle het al uitgewerk dis goedkoper om getroud te bly.
Ai-jai-jai. Daar is iets fout met die boodskappe wat met Andy Capp en The Lockhorns die wêreld ingestuur word: Bly in ’n situasie al word jy verbaal en fisiek vernietig; bly by jou man al steel hy van jou en lig hy maklik sy hand vir jou.
In al die jare het ek nog nie een keer gesien dat Andy se vrou, Flo, ’n klag teen haar man probeer indien nie.
Nouja, daar is seker ’n saak daarvoor uit te maak dat Britte uit die laer stande skrikkerig is vir die polisie. En dat dit beter is om die gesinseenheid heel te hou.
Maar in die Capps se geval is daar geen kinders om wie se ontwil die ouers moet saambly nie. Dit is in elk geval ’n twyfelagtige rede om getroud te bly.
Wil die gemiddelde Suid-Afrikaner regtig dié strokies in hul tydskrifte en koerante sien? Ek wil nie. Want daar is iets fout daarmee om te dink dat die vorme van geweld wat in sulke strokies uitgebeeld word, aanvaarbaar is, óf dat ’n mens daarvoor moet lag.
Selfs al word dit deur getekende figuurtjies gepleeg. © Stephanie Nieuwoudt