Wednesday, July 15, 2009

Stories teen die mure

Al het die wind fyn, fyn sand in my oë en mond gewaai, was ek dankbaar om op die heilige grond te kon staan. Dit was by die piramides van Meroë, ’n drie uur lange motorrit van die Soedanse hoofstad, Kartoem.
Hier is sowat veertig konings en koninginne van die antieke Meroïtiese koninkryk begrawe. Hulle het van 300 v.C. tot 300 n.C. geheers.
In sy boek Dark star safari skryf Paul Theroux hoe hy onder die sterre by die piramides kampeer. Daar was net ’n klein eenmanstentjie tussen hom en die woestyn. Ons het die gebied in die bloedige son besoek en geen romantiese aand á la Theroux daar deurgebring nie, maar die ervaring was nietemin betowerend.
Ná ’n vorige besoek aan Kaïro en dié stad se bedrywige piramide-gebied was die stilte van Meroë welkom. Behalwe ek en my reismaat en Ali, ons gids, vier buitelandse toeriste, ’n paar kameelryers en ’n hand vol plaaslike mense was daar niemand anders in die woestynlandskap nie.
Daar is meer piramides in die Soedan as in Egipte. By Meroë alleen is daar meer as vyftig strukture – en dit is maar een van vier piramide-gebiede in die Soedan.
Die strukture is heelwat kleiner as die piramides van Egipte. Maar, net soos in die Egiptiese piramides, vertel die prentjies teen die wande verhale.
Look, look, hair,” het Ali in geradbraakte Engels opgewonde die hare van die figure aan die piramides se mure aan ons uitgewys. “Bantu. Not Arabic. Look nose.
Die figure se neuse is inderdaad ronder en breër as dié wat in Egipte uitgebeeld word en die hare is korrelrig, nie reguit nie.
Deur die “prentjies” teen die wande te “lees”, leer jy iets van die mense wat duisende jare gelede gelewe het. Die gode wat hier uitgebeeld word, herinner sterk aan dié wat ’n mens in Egipte aantref en bevestig wedersydse beïnvloeding.
Die magte van een van die antieke heersers, Piye (soms bekend as Piankhy), wat in die noorde van die Soedan geheers het, het die Egiptenare oorwin en sodoende het hy ook een van ’n lang lys farao’s geword. Die Egiptenare het ook ’n ruk lank oor ’n deel van die antieke Noord-Soedan, destyds bekend as Kush, geheers.
Dit het ’n paar sekondes geduur om te verstaan wat Ali bedoel het met die woord “beeble” wat hy oor en oor herhaal het. Daar was inderdaad baie “beeble” teen die wande: konings en koninginne, slawe en slavinne en wesens wat halfmens, halfdier is.
Die koninklike “beeble” het nie onsin geduld nie, lei jy af uit die swepe wat gereed is om om die skouers van ander te krul. Daar is ook tekens van oorvloed; trone en duur gebruiksartikels soos bakke en skottels.
Die kettings waarmee mense aan mekaar vasgemaak is, toon duidelik die konings van antieke Meroë het van ander mense slawe gemaak. Daar is vandag steeds allerlei gerugte dat mensehandel in veral die oorloggeteisterde Darfoer in die weste van die Soedan voortduur.
Slawehandel in die Soedan is nie uniek nie: wêreldwyd word miljoene vroue en kinders jaarliks tot slawerny gedwing. Soms is dit deur fabrieksbase wat kinderwerkers in fabrieke toesluit.
Soms is dit deur gewetenlose “agente” wat arm vroue met allerlei beloftes van beter omstandighede uit hul geboorteland weglok en hulle dwing om prostitute te word deur hul paspoorte van hulle weg te neem.
Hoe “lees” jy die prentjie wat wys hoe ’n koningin ’n spies in die nekke van ’n groep gevangenes indruk? Was hulle misdadigers? Of was sy psigopaties en wou graag bloed sien vloei? ’n Mens se verbeelding gaan nogal op loop in dié verlate landskap.
Die strukture, waarvan sommige in die 20ste eeu met dinamiet deur grafstropers oopgeskiet is, lyk broos en dalk is dit waarom ’n mens woedend is wanneer jy sien hoe toeriste teen die piramides opklim om vir foto’s te poseer.
Toe Ali met sy flappende wit gewaad en (vermoedelik) ’n string Arabiese skelwoorde op hulle afstorm, is ’n mens verheug dat die maer, arm man so passievol voel oor sy land se erfenis. En jy is dankbaar dat die voortslepende konflik in die land verhinder dat miljoene toeriste op die heilige gebiede toesak. © Stephanie Nieuwoudt