Friday, April 15, 2011

Stephanie Nieuwoudt wen Mediaveertjie vir "Vriendskap oor dekades"


Stephanie Nieuwoudt het 'n 2011 ATKV-Mediaveertjie gewen vir haar profiel van Ouma Mieta van der Merwe en Oom Tolliejan van der Westhuizen, inwoners van 'n ouetehuis op Sutherland. "Tussen die twee, die een ’n wit vrou, die ander ’n bruin man, lê ’n leeftyd van saamwerk en saam swaarkry..."


Stephanie Nieuwoudt

Ouma Mieta van der Merwe is ’n sterk vrou. Dit sien jy aan haar lengte, haar forse gestalte en haar raakvathande. En aan haar gesig, wat ondanks haar 77 jaar taamlik sonder plooie is. En aan haar oë wat steeds helder en reguit kyk.


Ná ’n leeftyd as boervrou het sy onlangs in die Johenco-ouetehuis in Sutherland in ’n klein woonstelletjie ingetrek. In ’n ander vleuel van die tehuis deel Jan (Tolliejan) van der Westhuizen (70), wat sedert sy kinderdae by hulle gewerk het, ’n kamer met ’n ander bejaarde.

Tussen die twee, die een ’n wit vrou, die ander ’n bruin man, lê ’n leeftyd van saamwerk en saam swaarkry.

“Tolliejan het as sesjarige seuntjie met ’n velletjie oor sy skouer by die buurplaas opgedaag en gesê hy wil daar kom bly en werk,” vertel ouma Mieta. Die “velletjie” was ’n skaapvel wat hy op die vloer oopgegooi het om op te slaap. Die boer van die buurplaas sou later haar man word.

’n Sesjarige seuntjie wat werk? Inderdaad. In die Noord-Kaap moes plaaskinders ongeag hul velkleur van bitter jonk leer om te werk. Ouma Mieta en haar tweelingsuster, Sannie, was net ’n maand oud – daar was vyf ouer kinders en ná hulle sou daar nog vier kom – toe haar pa besluit die gesin moet op ’n kapwa uit die T’Koeriesberg-omgewing padgee agter weiding vir die skape aan. Hulle het vier jaar lank getrek.

“Van daardie eerste paar jaar onthou ek niks,” sê ouma Mieta. “Maar ek onthou toe ons uiteindelik staanplek gekry het en ek en my sussie as vierjariges begin het om skaap op te pas. Ons was so dom, ons het nie geweet ons moet huis toe gaan as die son sak nie. My pa het dan maar ’n vuur gemaak, en dan loop ons agter die gloed aan.”

In haar goed gemoduleerde stem vertel ouma Mieta die polisie het eendag, toe sy en haar sussie agt jaar oud was, op hul plaas stilgehou en gesê die kinders moet skool toe. Hulle was ver van die skool af en die tweeling het saam met agt ander kinders by hul ouma gaan loseer. Nadat hulle standerd ses klaargemaak het, het haar pa besluit die tweeling het genoeg geleerdheid. Hulle moes op die plaas begin werk.

Sy lyk verbaas oor die vraag of sy ’n goeie verhouding met haar ouers, en veral haar pa, gehad het.

“Ons het wonderlike ouers gehad. My pa was streng, maar hy het ook altyd ná die tyd getroos. Die boere was arm. Hulle het nie werkers gehad nie. Hul kinders was hul werkmense

Ouma Mieta was net 19 jaar oud toe sy met die buurman, wat 16 jaar ouer was, getrou het. “Hy was goddank bly hy kry so ’n tawwe vrou,” sê ouma Mieta met ’n glimlag.

Toe hy sowat 14 jaar gelede dood is, het ouma Mieta en oom Tolliejan saam aanhou boer.

“Ek het skaap geskou en ’n klomp pryse gewen. Op 70 het ek gesê tot hier toe en niks verder nie. Die seuns het die plase oorgeneem.”

Saam met oom Tolliejan het sy na haar dorpshuis in Sutherland getrek, waar sy ’n ruk lank saam met haar dogter gewoon het. Oom Tolliejan het in ’n woonwa op die erf ingetrek. Toe ouma Mieta se heup en knieë begin oppak, het sy ouetehuis toe getrek. Weer is oom Tolliejan saam.

Ons stap van haar woonstelletjie af deur ’n gebou wat nogal aan ’n hospitaal herinner, op met ’n gang en kom uiteindelik tot stilstand by ’n gemeenskaplike vertrek waar ’n aantal bejaarde mans televisie kyk.

“Jan, hier’s mense om jou te sien,” roep ouma Mieta in die vertrek in. Oom Tolliejan, ’n oompie wat onder sy warm winterjas duidelik brandmaer en amper ’n kop korter is as ouma Mieta, spring onmiddellik op. Ons stap terug na haar woonstel. Waarom wou hy as kind so graag by ouma Mieta se toekomstige man gaan woon en waarom het hy so lank by die familie gebly?

“Hulle het kans gesien om my te ontvang,” antwoord die oom met ’n breë glimlag op sy beplooide gesig. “Dit was ’n goeie lewe. ’n Baie goeie lewe. Ons het nog met donkies geploeg.”

Nee, sê hy, dis nie vir hom, ’n man wat gewoond is aan die oop veld, moeilik om in die ouetehuis aan te pas nie. Hy kry hier wat hy nodig het. Hy kan elke dag televisie kyk. 7de Laan is sy gunsteling-program. Sy gesondheid is goed, sê oom Tolliejan. Al het hy tuberkulose gehad. Nadat hy lank medisyne gedrink het, is hy nou gesond.

“Hy het siek geword omdat hy tog te graag mense soen,” werp ouma Mieta tussenbeide.

“Ja. Ek soen al my familie. Veral die vroue.”

Hy weet nie wat hy sonder ouma Mieta sal doen nie, antwoord oom Tolliejan op ’n vraag. “Ons is so gewoond aan mekaar; ons kan nie sonder mekaar nie.”

“As ek nie meer hier is nie,” sê ouma Mieta droogweg, “sal hy my mis, want daar sal niemand wees om vir hom twak en vleis te gee nie.”

Oom Tolliejan het self ook vier kinders. Maar sy vrou is jare gelede by die geboorte van hul jongste kind dood. Ouma Mieta het by die geboorte vroedvrou gespeel. Die vrou het doodgebloei. Dit was heeltemal onverwags, vertel ouma Mieta. “Ek was geskok en hartseer.”

Oom Tolliejan se vier kinders het dikwels by ouma Mieta kos en klere gekry. Kosmaak was nog altyd een van die dinge wat vir ouma Mieta, ’n voorslag-kok, groot vreugde verskaf het. Deesdae kry oom Tolliejan minstens een keer per dag ’n bord kos wat sy vir hulle berei.

“Hy is baie lief vir vleis,” sê sy terloops.

Ondanks die probleme met haar heup en die feit dat sy dit al hoe moeiliker vind om te loop, ry sy nog gereeld die ver ent plaas toe, want sy kan nie in die ouetehuis stilsit nie.

En altyd is oom Tolliejan aan haar sy.

“Ons gesels onophoudelik. Daar is ’n leeftyd se dinge waaroor ons kan gesels. Ons gesamentlike belangstelling is die plaaslewe. Dis wat albei van ons ken,” sê ouma Mieta.

Op die plaas, by die dorpshuis en selfs by die ouetehuis deel ouma Mieta steeds vir oom Tolliejan werkies uit.

Ons groet en terwyl ons wegry, sien ons hoe ouma Mieta met haar vinger beduie na ’n potplant wat geskuif moet word. Toegewikkel in sy wintersjas spring oom Tolliejan aan die werk.

- Rapport, 2010-10-09