Wednesday, October 21, 2015

Van vraghouer tot wooneenheid

Verbygangers het verlede week gewonder waarom ʼn skeepsvraghouer in Ryneveldstraat, Stellenbosch op die grasperk agter die munisipale geboue afgelaai word. ʼn Week later is die vraghouer omtower in ʼn gerieflike eenmenswoonplek kompleet met ʼn kombuisnis, badkamer en oopplan slaap- en sitkamer.
“Hierdie model is om vir die gemeenskap te wys dat vraghouers omskep kan word in woonplekke waarop ʼn mens trots kan wees,” verduidelik Raadsheer Conrad Sidego, uitvoerende burgemeester. “Stellenbosch het ʼn agterstand van 25 000 huise. Iemand wat nou op ʼn waglys vir ʼn huis geplaas word, sal waarskynlik eers oor dekades ʼn huis kry. Vraghouers is ʼn doeltreffende en vinnige manier om huise beskikbaar te stel." Die eenheid word ingerig deur mnre Kobus Prinsloo van Sibanya Box Developers en Sam Chagwedera van Barwe Building en ʼn span werkers. ʼn Eenheid wat uit een vraghouer van 2,2m x 6m gebou en volledig toegerus word met kombuiskaste, ʼn stoof, ʼn badkamer met wasbak, stort en toilet, kos tussen R80 000 en R95 000. ʼn Groter eenheid wat uit twee vraghouers bestaan, kos R125 000.
Vraghouers wat in wooneenhede omskep word, het talle voordele: die mure kan nie kraak nie, dit is waterdig en klankdig en dit word binne drie tot vyf dae volledig ingerig. Dit is ook brandbestand. Die Nutec “huid” waarmee die wande buite sowel as binne bedek word, help om die eenheid in die somer koel en in die winter warm te hou. “Die behuisingsnood in Suid-Afrika is groot,” sê Sidego. “Ons moet met innoverende oplossings vorendag kom om ʼn menswaardige omgewing te skep. Hierdie eenhede pas ook by Stellenbosch se beeld as die Innovasiehoofstad van die land en by die munisipaliteit se visie om die groenste munisipaliteit te wees. Die vraghouers is iets wat reeds bestaan en wat nou in iets bruikbaar en volhoubaar omskep word. In die proses word duur boumateriale en bouprosesse uitgeskakel.” Dit is ook maklik om ʼn eenheid te vergroot deur na 'n tweede vraghouer deur te breek en byvoorbeeld afsonderlike slaapkamers of ander vertrekke in te rig. Daar is wêreldwyd tientalle voorbeelde van spoggerige vragskeepwonings wat twee of drie verdiepings beslaan en met die duurste en luuksste meubels en toebehore toegerus is.
Krag vir die eenhede soortgelyk soos die op die Stellenbosch munisipale perseel word gewoonlikvoorsien van ʼn sonpaneel wat 18kW krag kan opwek. Dit lewer genoeg energie vir ʼn stoof, TV, yskas en ligte. “Die meeste mense sien ʼn vraghouer as net ʼn groot blik wat goedere moet vervoer,” sê Raadslid Valerie Fernandez, portefeulje-bestuurder Menslike Nedersettings en Eiendom. “Die eenheid agter die stadsaal sal hopelik vir die gemeenskap wys dat hierdie soort behuising innoverend is en dat dit moontlik is dat talle eenhede binne ʼn kort tyd ingerig kan word. Dit is 'n proses wat veel vinniger geskied as om ʼn huis van bakstene te bou. “Die lewensduur van rou vraghouers – in hul oorspronklike vorm en sonder enige verbetering daaraan – is 180 jaar. Maar as dit goed onderhou word, is die lewensduur veel langer. Dit is dus ʼn volhoubare oplossing.”

No comments:

Post a Comment